Mnr. Trevor Loxton van Ghoemas Landgoed naby Keimoes was die wenner van die jaarlikse VinPro/Winetech Oranjerivier wingerdblok kompetisie vir die 2009/2010 oesjaar.
Die beoordelingspaneel het bestaan uit wingerdkundiges al die pad van die Wes-Kaap, asook plaaslike beoordelaars. Die beoordelingspaneel het ‘n algehele punt van 92% aan die Chardonnay wenblok toegeken. Die Chardonnay blok is aangeplant op ‘n diep, vrugbare sandleemgrond in 2003. Dit word verbou op Richter 99 onderstok met ‘n plantspasiëring van 3.1 m x 1.2 m en is opgelei op ‘n T-Kap oplei-stelsel. Die blok word vloedbesproei en intensiewe lowerbestuur vind op ‘n jaarlikse basis plaas aangesien die blok deel vorm van Oranjerivier Wynkelders se premie-blok sisteem. Die produksie van die blok oor die afgelope aantal jaar het as volg daarna uitgesien: 2007 – 14 ton/ha; 2008 – 16 ton/ha en 2009 – 16 ton/ha. Die druiwe van hierdie blok word aangewend vir hoë kwaliteit glasbottel wyne vir beide die binnelandse- en buitelandse mark.
Mnr. Loxton skryf die sukses wat hy behaal met die blok t.o.v. kwaliteit en winsgewendheid toe aan goeie bestuur veral met betrekking tot lowerbestuur, asook noue samewerking met Stefan Jordaan, wingerdkundige van Keimoes Kelder.
Die beoordelingspaneel was dit eens dat die wingerdkundige praktyke- en bestuur van die wenblok van ‘n ongelooflike hoë standaard was. Mnr. Loxton het prysgeld ontvang wat oorhandig is deur Martin Ehlers, Bestuurder- Landbou van Eerste Nasionale Bank (FNB), asook pryse wat geborg is deur Jaco Smit van UAP – Keimoes en Charl Baard van Charl Baard Landbouprodukte – Keimoes. Mnr Andries Kuhn van Upington het die tweede plek beklink met ‘n mooi blok Colombar.
In die derde plek was nog ‘n blok Chardonnay wat behoort aan Mnr. Plankies van der Walt van Upington. Beide die tweede en –derde plek wenners het prysgeld ontvang van FNB, asook pryse wat geborg en oorhandig is deur Wollie Wolmarans van Terason. Henning Burger, VinPro streekskonsultant en Bestuurder – Wingerdkundige Dienste: OWK wil graag alle borge en deelnemende produsente bedank vir hul bydrae tot die sukses van die 2009/2010 Oranjerivier wingerdblokkompetisie.
Saamgestel deur Henning Burger (Bestuurder – Wingerdkundige Dienste: OWK)
|